Michael Jackson is nie dood nie.
Die orkes speel die naweek by ‘n Boeredagfees so 200km noordoos van Beaufort-Wes. Êrens naby nêrens waar die tyd gaan stil staan het. Waar fietsparkering nog voorkeur voor die Algemene Handelaar kry. En waar oom Tat nog sy bier met ‘n strooitjie drink, terwyl die kinders klippieskool op die houttrap teen die kerksaal speel.…
Die GIG is ‘n skuur op die skougronde waar die boere van die omgewing oor ‘n bord dorpertjops en wors, hul stoetskape se ingedraaide hakskene analiseer .…. en wonder wanneer die reën gaan kom? Terwyl die boervrouens hul tuisgebak, en handgebrei, op wit gestyfde lappies uitstal.
Die orkes neem hul plekke in en toe Dawie sy trekklavier onder sy ken vasknyp, sien hy vir Michael raak. Lewensgroot op die yskas. Die hoed, die bril en die handskoen voltooi die ongewone prentjie.
Hy knip sy oë om seker te maak hy droom nie.
En toe hoor hy hom sing : Grab a song and come along. A world of sweet harmony. Now music, music and me.
Music and us ……
Wat ons saambind. Op Merweville.
No comments:
Post a Comment