Mariana Untitled, mixed media, 2009
Bring vir my ‘n zol.
Ons hou ‘n Griekse aand met al die Griekse disse wat ons op ons klein plattelandse dorpie kan uitkrap. Ek help vir Trudie in die kombuis en ek kom agter sy is stiller as die vorige en enigste ander keer wat ek saam met haar gekuier het. Ek neem sommer aan sy het ‘n rowwe dag gehad en is seker maar gedaan soos almal van ons op ‘n Vrydagaand is. Sy is ook heelwat ouer as die res van die geselsskap, en ek dink onwillekeurig daaraan dat sy haar jare goed dra. Sy is statig en goed versorg en haar dun middel en pragtige groot borste dra by tot haar vroulikheid .
Ons kuier en eet verskriklik lekker en ek dink ek som dit goed op deur te sê dat as ‘n vriendekring so goed connect soos ons daardie aand, daar nie veel is wat dit kan versteur nie. Maar toe Trudie haar selfoon vat, skakel, en duidelik vra: ”Kan jy vir my ‘n zol bring?”, het daar ‘n effense stilte neergedaal.
Ek kyk haar met ongeloof aan. Nie omdat ek nog nooit die woord ‘zol’ gehoor het nie, maar omdat dit glad nie sin maak nie.. Sy is baie spesifiek: Nie vir ons’ nie, maar vir ‘my’. Verder het sy die dealer se nommer op haar selfoon en praat sy direk met hom.
Sy antwoord sonder dat ons hoef te vra. “Niks anders help as die pyn so erg raak nie” en sy plaas haar hande op haar pragtige groot borste. Agt pare verbaasde oë volg haar hande. En toe sien ek dit. Onder haar linkerhand, omtrent daar waar haar hart sit, is die bors se substansie aansienlik anders.
Ons het die kombuis opgeruim en gesorg dat sy gemaklik is voor ons vertrek.
Toe ek haar die volgende dag skakel, was sy opgewek en vrolik......en sy het my verseker dat sy .… nog steeds …. soos ‘n Griekse Godin …voel.
No comments:
Post a Comment