koeke en panne
Ek hou nie van die kombuis nie. Nee, laat ek myself korrigeer ..... Ek hou GLAD nie, geensins, hoegenaamd nie, nie eers ‘n bietjie van die kombuis nie. Nie van skottelgoedwas of skottelgoedwegpak nie. Nie van kaste regpak of groente skil nie. Ek hou nie van resepteboeke of van kosmaak nie. En ek hou GLAD, GLAD nie van koekbak nie. En om heeltemal eerlik te wees, het vadoeke, skoongewas en netjies in ‘n ry langs mekaar bokant die wasbak gehang , my nog nooit as persoon gedefiniëer nie. (A la Skoonma)
Die bakkery skuins oorkant die apteek in Beatty straat, regs langs die bloemiste, het dus deel van my weeklikse 3 pit-stop geword. Pille en pleisters, blomme en koek. Daardie items bly ‘n ma se beste vriende.
Net soms was die teendeel waar, want waar kry ‘n ma ‘n verjaarsdagkoek te koop wat by haar kind se persoonlikheid pas? ‘n Pleister bly ‘n pleister en ‘n blom bly ‘n blom, maar ‘n koek vir jou kind se verjaardag is heeltemal te persoonlik om oor die toonbank te koop. So, 3 maal per jaar het ek die koekpanne en koekspane uitgehaal, die oond na 180 gedraai en vir ‘n wyle passievol met my kombuis verkeer.
Vir my oudste dogter moes die koek lig en sag wees. Ek het die beslag ekstra lank geklop, en wanneer ek die lepel uit die bak gelig het, moes die deeg glad en fyntjies van die lepel drup. Die icing was ligte pienk soos haar wangetjies, gepof en suikersoet. Daarna moes die koek wegsmelt in jou mond, en die soet van die icing het vir ‘n lang ruk daarna nog op jou tong bly rus.
My tweede dogter het gewoontlik cup cakes gekry, en elkeen moes individueel versier word. Dan was die tafel ‘n mengelmoes van kleure en versierings en oor elke koekie het sy so opgewonde geraak, mens kon sweer haar lewe het daarvan afgehang. Sy het met oorgawe gehelp dekoreer en die cup cakes sommer ‘n lekkie gegee voor sy dit self op die tafel uitgepak het. Later het sy vir een of ander rede geglo dat sy self vir haar partytjies betaal het.
Toe die derde dogter haar koekbeurt kry, het daar so ‘n effense probleem ontstaan. Haar natuurlike sin vir orde, het nie heeltemal gestrook met my sin vir ... wanorde nie. Haar koeke moes fyn beplan en fyn uitgevoer word, want anders het dit ‘n geskreeu afgegee. Soms het sy die proses by my oorgeneem, en op ‘n fyn en bedrewe manier daai klein vingertjies ingespan. Minder was meer, maar min moes perfek wees vir haar.
Die kinders het lankal die huis verlaat en die koekpanne is nou vol plantjies geplant, mooi netjies in ‘n ry langsmekaar gepak op my plantrak by die agterdeur.
En my vadoeke......die hang nou netjies en skoon langsmekaar bo die wasbak.
No comments:
Post a Comment