KOM ONS FLiP!
Ek hou van verskillende mans vir verskillende redes. Soos my Pa. Hy het my geMAAK, en ek skat dit was tydens ‘n elektriese storm. Selfs die nag met my geboorte, het dit ook geblits en gedonder. Daarom kan ek nooit verstaan as mense my temperament beoordeel nie, ek bedoel, ek het blitsend die wêreld ingekom, en het dit dan nie met vuur te doen nie?
My pa het my nooit geoordeel nie... Hy het verstaan, want ek dink hy is ook onder sulke omstandighede gebore. En om dit te bewys, was sy hare bloedrooi.
Hy was goed met sy hande, nes ek. Hy kon trekkers bou en vliegtuie bou. Selfs ‘n helikopter, al kon dit nie self opstyg nie, maar slegs met ‘n tou in die plaaspad af, agter die jeep aan. Die kere wat my pa daarin kon slaag om die helikopter in die lug opgetrek te kry, kon hy dit vlieg ook. Maar dit het min gebeur.
Die vliegtuig was ‘n ander storie. Dit kon hy vlieg met die grootste presiesie. Vir een of ander rede het my pa egter gedink klein dogtertjies hou baie daarvan om met ‘n vliegtuig te tuimel. Sondagmiddae – wanneer ander gesinne vir hul tydverdryf langs die pad in hul karre gesit en ander karre gekyk het - het ons gevlieg. Dan het my pa ons om die beurt ingelaai vir ‘n flip.
Ons buurman se naam was oom Flip, en ek het elke keer gewonder of ons hom tussen die wolke gaan kry? Ek kon dit nooit uitfigure nie. Nadat ons opgestyg het, het my pa die vliegtuig tot baie hoog laat klim sodat dit amper op sy stert gestaan het. Wanneer die vliegtuig daardie hoogte bereik het, het my pa die motore afgeskakel en dan het dit vir ‘n oomblik doodstil gehang, gehang….. en dan skuins gedraai om na benede te begin tol. Dit was vir my angswekkend, my maag het gedraai en instinktief het ek na almal om my gegryp.
Dis nou al baie jare later, en elke keer wanneer ek vlieg pak die vrees my nog beet. Soms moet ek’n kalmeerpil drink. Soms gryp ek na vreemde hande wanneer die vliegtuig begin skommel.
En dan wonder ek waarom my pa my so bang geMAAK het? (Temperament ten spyt)
No comments:
Post a Comment