ONTHOUSPIERE
Ek is glad nie precious oor myself nie, maar as ek nou terugkyk na die foto’s van daardie aand, dan sien ek net die swaar en die gesukkel op my gesig. Nee regtig, regtig. Swaarkry en sukkel sny sulke diep kepe in jou gesig. Ek dink die lagspiere gaan dood en die sukkelspiere neem net eenvoudig oor. (Nog spiere wat doodgaan onder emosionele stres, is jou onthouspiere, maar gelukkig kan jy later weer na die foto’s kyk.)
Op die eerste foto staan ek langs ‘n stoel en ek lyk hartseer, dink ek. Op die volgende foto sit ons op ‘n bank, en ‘n jong man soen my op my wang. Vreemd, dink ek.
Die res van die foto’s is niksseggend, en ek los dit op die tafel.
‘n Ruk daarna lui my foon, en die jong wangsoener vra of ek by die huis is? Toe ek sy motorfiets hoor, maak ek die deur oop en nooi hom binne. Hy bring die mooiste bos rooi rose te voorskyn. “Vir jou”, sê hy.
Ek ontvang dit onseker, want vir my is rose ‘n simbool van alles-is-weer-honky-dory-die-probleem-gaan-self-weg- sonder-om te-praat en toe hy die huiwering sien sê hy: “Vat dit. Jy herinner my aan my ma.
Ek skrik my boeglam, oor ‘n mik. Ek sit my hand instinktief op my voorkop, daar waar die ontnugtering sulke kepe gelos het. Hy soen my weer vinnig op my wang en sy sagte, vriendelike oë rus vir ‘n wyle op myne voordat hy weer straataf verdwyn. Die liefdevolle gebaar laat my met trane in my oë.
Toe besef ek. Vergeetspiere. Dit gaan nooit ooit tot in ewigheid dood nie.
Want hy onthou dat sy ma ook haar lagspiere verloor het.
No comments:
Post a Comment