Mariana Unleashed Venus, Found Objects gemonteer in gebreekte glas pot, 2011
VENUS UNLEASHED
Dis die 24ste Desember en sy neem aan dis more Kersfees. Daar’s liggies in die strate. Daar’s liggies in die bome. Daar’s liggies in die huise se vensters. Net haar liggie is geblus. Sy mis haar kinders wat gekies het om Kersfees by hul pa te wees, haar vriende, en sommer elke liewe ding waaraan sy kan dink. Behalwe ‘n Kersboom, want ‘n kersboom het geskenke daaronder en sy het niemand om dit mee te deel nie..
Toe kry Lisa ‘n plan! Sy en haar hond gaan ‘n kersboom hê.
So teen 7 het sy die dagbed in die tuin tot onder die boom gesleep, en dit met kussings bestrooi. Sy druk kerse reg rondom die bed en knyp wasgoedpennetjies in die boom se takkies bo haar kop vas. Soos ‘n kroontjie. Toe haal sy ‘n hele sak bene vir die hond uit, en vir haar, 2 snye witbrood, gerooster, kaas en tamatie met baie swart peper. Sy gaan lê op die bed en luister na die feesvieringe in die lug. En dink. Aan die onregverdige behandeling wat sy van die mense wat haar moet liefhê, ontvang. Aan al die verwerping. Aan haar toekoms, haar finansiële situasie, en ‘n duisend ander goed.
Sy besluit om vir elkeen ‘n kers uit te blaas. En elke keer as sy ‘n kers uitblaas, word dit donkerder om haar, en dan skuif die hond ‘n bietjie nader. Toe daar een kers oor is, is Lisa net mooi by die een wat sy vir haar gewese man moet uitblaas. Sy kan wragtig nie die lug oor haar lippe passeer nie. Dis nie die teleurstelling en kwaad wat dit verhoed nie, dis iets anders. Dis iets anders. “Dis my seksualiteit, ek gaan dit ook uitblaas,” besef sy met ‘n skok.
Sy kyk op. Sy sien Venus en onthou skielik dat vroue daarvandaan kom.
Toe Lisa dit uiteindelik regkry om die mankers uit te blaas, knipoog Venus vir haar. En sy kon sweer daar's ‘n glimlag om haar mond.
No comments:
Post a Comment