Mariana Spoelstokke gemonteer in Found Object 2011
VERRAAD / VIR RAAD
Die kerk oorkant die straat se deur is gewoontlik toe, wat te verstane is in die land, en die straat waarin ek bly. Dit maak ook nie eintlik saak vir my nie, want die hele religion ding het my nog altyd verwar ...... en soos Gandhi gesê het: “Ek hou baie van Christianity, maar ek hou nie baie van Christene nie.” (Of het ek dit dalk self uitgedink en nou maak ek hom die skuldige?)
As ‘n mens te na gekom is deur mense waarvan jy dit nie verwag nie, voel mens seker soos Gandhi oor die hele spulletjie. Dan glip woorde soos huigelaar en hypocrite glad oor jou lippe.
My koffiedrinksessies op my voorstoep wat uitkyk op die hawe word ‘n ritueel. Ek skop my voete vas teen die lae muurtjie terwyl ek my rug, koffie in die hand, teen die pilaar stut. So gebeur dit dat ons 3 dikwels in die skemer daar gaan sit, dis nou ek, my hond en die groot Verraad wat teen my gepleeg is. Tot een aand wat ek opkyk en die oop deur van die kerk raaksien....
Ek stap die kerk onseker binne. Voor op ‘n tafel lê ‘n Bybel, en ek slaan ek dit oop. In die flou lig lees ek: “Wanneer mans aan die stry raak en die een slaan die ander met ‘n klip of met die vuis sonder om hom dood te slaan, moet die slaner nie gestraf word nie. Die slaner moet hom vergoed vir die tyd wat hy nie kan werk nie en vir hom sorg tot hy behoorlik gesond is..... “ Dit maak absoluut geen sin vir my nie.
Ons 3 het nog lank daarna so op die stoep gesit en koffie drink, totdat ek eendag agtergekom het dat net ek en my hond oorgebly het. Verraad het verkas. Saam met die mense wat verraad teen my gepleeg het. En in hulle plek het vergoeding en heling gekom deur mense oor wie Gandhi mal sou wees. Mense wat regtig vir my omgee en my versorg en my aanraak met harte vol opregte liefde en vrede, soos dit Christene betaam om te doen..
Vir raad, het ek toe gereeld deur die kerk se oop deur begin stap.
No comments:
Post a Comment