Thursday, 11 August 2011

Plat Hoenders en ander Troeteldiere

Mariana  Vis  2009
Plat Hoender
 
'n Kind moet 'n troeteldier besit om lewenslesse te leer..  Maar wat gemaak  as die troeteldier vir jou wil leer? 
 Jy kry 'n doos.
Die 3 kapokkies was ‘n goeie voorbeeld.  Hulle moes saans in die donkerte bekruip, en in hul slaapboom gevang word.    Om in ‘n plat doos, flappe sorgvuldig  toegevou, te slaap.  Want kapokkies kan nie kraai sonder om hulle koppe op te lig nie, en ons en die bure kon slaap tot opstaantyd.
Dobbie was ‘n ander storie. Hy het sy naam van ‘n grillerige, tandlose karakter in n storieboek gekry. En om hom  te huisves, het my kind haar kamer  in ‘n grot verander. Met dun toutjies wat  kruis en dwars soos ‘n web gespan was vir Dobbie om onderstebo aan te hang.  Hy is sorgvuldig 5 keer per dag  met ‘n mengsel van eier, melk en Pro Nutro  gevoer. En snags moes Dobbie in 'n skoendoos slaap, anders vlieg hy rond en koek jou hare.  Met sy dood (genadiglik) 2 maande en 4 dae later, het Andrea nog vir oulaas mond-tot-bekkie  probeer, maar die einde van die grotepisode was gelukkig onvermydelik.   
Toe Oumie se skilpadjie in ‘n siggaretdosie deur die pos arriveer, moes ek egter my voet  neersit.  Die begraafplaas onder die  eikeboom in die voortuin was reeds vol, en die DBV   was ‘n tydbom om te gebeur.
Baie jare later het ek  ‘n aardige versameling doodskissies met ‘n tuinbousessie oopgespit.  En ek het elke Gesang en Psalm,  elke afskeidstraan, elke grafsteentjie wat sorgvuldig met kruisies en blommetjies gemaak was, onthou.
En ek was dankbaar vir al die troeteldiere, en vir al die lewenslesse wat my kinders, en ek, deur hulle kon leer. 
Dose en al. 

No comments:

Post a Comment