Met hul jaarlikse Kersvakansie langs die Karibameer, word Laetitia se spieëltafel spesiaal met ‘n ekstra vragmotor afgelewer. Om netjies in die tent langs haar kampbedjie staangemaak te word.
Seekoeie hou ook van spieëltafels en dit vind sy uit net toe sy die laaste tikseltjie rooi aan haar wange wil tik. In die refleksie van haar kantspieël sien sy hom gluur, afskuwelike rooi ogies in sy groot-groot kop.
Toe hy storm, spring sy op en gil, maar verniet. Die mans vang tiervis.
Die seekoei v-e-r-w-o-e-s die spieëlkas. Hy trap die lipstif, die blos, die rome en die parfuum fyn, terwyl hy snorkend en blasend sy gebied afpen.
Laetitia aanskou die petalje vanuit die vragmotor se 'rear view mirror', en waag dit eers om uit te klim toe die mans later die dag van die viswater af terrugkom.
Die volgende dag is die spieëlkas met ‘n splinternuwe een vervang. Die mans moes die handlanger op die boot afstaan om wag te staan, en Leatitia kon nog steeds vir die res van die vakansie haar Pimm’s ... met bloedrooi lippe 'sip'.
No comments:
Post a Comment