Wednesday, 24 August 2011

Katie



Die legende van Katie

Sy wag al vir dae geduldig op die olifant,  op Groot Voete, en wragtig, vandag skiet sy hom flenters.  As sy hom net kan kry, want vir dae moet sy die kinders binne hou, te bang hy trap hulle.  Vir weke al kom verwoes hy haar groentetuin,  en van die vyeboom  is daar ook niks oor nie. Kos is skaars en die dorp lê drie dae vêr se gesukkel deur die bos en terug.    Giel saag hout by Diepwalle se kant, en hy kom eers  huis toe as hy klaar die vrag hout tot by die meule in Knysna gesleep het.

Haar hand is seer van  vashou aan die voorlaaier, toe sy skielik die gegrom van sy maag hier naby haar hoor.  Sy sak laer in die voortjie waarin sy lê, versigtig toegerol in ‘n moddersak om haar reuk te verbloem.  En sy wag, haar oë vasgenael deur die gleufie, op sy groteske kop met spierwit tande wat ondertoe krul.  Oorgelaai  lig sy haar stadig op haar arms. Vir ‘n sekond kyk sy in sy oë.  Hy bak sy ore, en uit sy keel kom ‘n onaardse geluid toe hy sy slurp oplig om te storm.
Die skoot ruk haar eenkant toe en toe sy omdraai sien sy die olifant na skuins kantel.  Dood.
Drie dae later sleep Giel hulle hom stuk vir stuk met die houtslee en osse  weg.  Sy tande kan hulle verkoop, maar die grootste geskenk vir Katie is haar vyeboom wat vroeg weer nuwe takke uitstoot. En met die saad wat sy kon red, hou haar groentetuin  reeds ‘n nuwe belofte van kos vir haar kinders in ... kinders wat weer sorgeloos kan speel sonder om te wyfel, te waak,  of te wonder.   
En Katie.  Haar gebed was tot die einde een van dankbaarheid dat sy die bos kon oorwin.  Honger, eensaamheid, siektes, slange,  koue, donkerte.  Maar die mees  van alles, was sy dankbaar dat sy daardie dag vanuit die sloot, ook vir Groot Voete, kon oorwin.  
(Katie staan tot vandag toe bekend as die enigste vrou wat  ‘n olifant in die Knysnabos  kon doodskiet.)

No comments:

Post a Comment