Friday, 16 September 2011

Laat ek jou voorstel aan Donderdag.


Laat ek jou voorstel. . . aan Donderdag
Die nuus het op ‘n Donderdag gekom.  Dis kanker, het sy gesê en vir ‘n oomblik het haar flitsende blou oë afgeskakel.
Die maande tussen-in was gevul met hoop, hartseer, pyn.  En nog hoop.  Tot die dag aangebreek het dat dit ook vervaag het.  Sy was nou permanent bedlêend en dit was vir my belangrik om saam met haar op die dood te wag.  Ek wou ook in sy lelike gesig kyk, en as dit sou help, smeek vir nog ‘n dag, nog ‘n uur.
Uit haar semi-koma het sy die laaste dag skielik regop gesit.  Sy was kristalhelder en het met verwondering na die hoek van die kamer gekyk.  Op haar gesig was die mooiste glimlag en die soetste vredesgloed.  En haar potblou oë het nou in verwondering  geflits.  Ek het  geweet dat die Doodsengel reeds vir haar wag.
Ons het haar op ‘n Donderdag begrawe, en toe sy sag weggly in die harde aarde het ek vir haar dankie gesê vir jare se vriendskap waartydens sy my die waarde van onvoorwaardelike liefde gewys het.  Ek het ook dankie gesê vir al die wonderlike goed wat sy tot my lewe toegevoeg het. 
En toe ek wegstap was dit met dankbaarheid, want deur haar het ek uiteindelik gesien dat die dood – tog ook ‘n mooi gesig kan hê.
Die  Doodsengel se  gesig.  Omdat dit verlossing bring.

No comments:

Post a Comment