Gouna, Knysna
KATIE VAN DIE GROOT BOS
Sy wag al vir dae geduldig op die grootvoet, en wragtig, vandag skiet sy hom flenters . . . as sy hom net kan kry. Vir weke al kom verwoes hy haar groentetuin en die lukwaartboom is skuins uit sy gat gepluk, gestroop en tot niks vertrap. Kos is skaars en die dorp lê drie dae vêr se gesukkel deur die bos en terug. Die kinders is honger en Giel saag hout by Diepwalle se kant. Hy kom eers huis toe as die hout klaar gelaai is.
Sy moet hom kry. Vandag nog.
Moedeloos sak sy in die voortjie terug, haar hande om die voorlaaier gevou, versigtig toegerol in ‘n moddersak om haar reuk te verbloem. En sy wag.
Sy moes aan die slaap geraak het, want toe sy opkyk staan hy daar, sy groteske kop met spierwit tande wat ondertoe krul net ‘n paar meters van haar af. Oorgelaai lig sy haar stadig op haar arms en vir ‘n sekond kyk sy in sy oë.
Die skoot ruk haar eenkant toe en toe sy omdraai sien sy die olifant na regs kantel. Dood.
Drie dae later sleep Giel hulle sy karkas stuk vir stuk met die houtslee en osse weg. En vir Katie kom daar vrede. Vrede in haar huis en tuin, vrede in haar hart.
Want haar kinders het weer kos om te eet.
Want haar kinders . . . sal weer kan speel.
(Katie staan vandag nog bekend as die enigste vrou wat 'n olifant in die Knysnabos geskiet het.)
No comments:
Post a Comment