Monday, 5 December 2011

Bosstoriesreeks no 2 / Grietjie Lamina

Grietjie Lamina
Vir Luigia Fardini is die winter van 1891 ekstra koud.  Sy bevind haar nie net  in ‘n  vreemde land nie.  Sy is ook in die ‘ander tyd’ en die blote gedagte dat sy weereens, te midde van honger, gevaar, koue en bomenslike ontberinge die lewe aan ‘n kind in haar hopelose omstandighede moet skenk, vul haar met angs.
Toe sy die kind al sterk voel skop, so om en by haar 6de maand, word haar man Domenico se touleier Arend, na Buffelsnek gestuur met ‘n boodskap vir Grietjie. Grietjie Lamina, die vroedvrou van die groot bos.
Toe die tyd aanbreek volg Grietjie die napad deur die bos. Oor die Knysnarivier, verskeie stroompies langs en weer op tot sy  Platrant in die verte sien.  Twee dae te perd. Om lewe in haar hande te ontvang.
Luigia is verlig toe sy  haar opwagting maak  en  die paar dae voor die bevalling neem Grietjie vanuit die stoortjie waar sy tussen die paarstuks lêhoenders moet slaap, beheer. Lappe word ingelê en die groot kom op die solder word skoongeskrop en in die kol son langs die witstinkhout gedroog. En toe Domenico haar die nag van die 6de Junie, in die middel van ‘n donker en yskoue, nat wintersnag kom roep, is Grietjie slaggereed om die 9de baba van Luigia en Domenico  die wêreld in te help.
Toe klein Teresta uiteindelik skoongewas  by kerslig aan haar ma se bors aan die slaapraak, gaan begrawe Grietjie die nageboorte. Die lappe en skottel word later sorgvuldig gebêre, en toe Grietjie haar perd drie dae later opsaal weet sy dat sy spoedig weer die tog Platrand toe sal aanpak.
Omdat sy Grietjie Lamina, vroedvrou van die vrugbare bos is.

No comments:

Post a Comment