Historiese Monument
Sy skrik haar boeglam toe sy die Kaart en Transport van haar nuwe huis ontvang. Sy lees dit weer en weer. En weer. HISTORIESE MONUMENT staan daar. In duidelike swart letters. Swart op blerrie wit. Getag.
Sy HOU NIKS van tags NIE. Dalk is daar spoke in historiese monumente, of historiese verantwoordelikhede soos jy mag dit nie bont verf nie. Of die pilare mosaiek nie. Of dalk kry jy inspeksie van moerige raadslede.
Sy vul egter haar huis met snuisterye, behang haar mure met vreemde skilderye. Verf en spat, spit en span. Sonder konformasie. Of deformasie. En oor haar ou drumpel loop beautiful mense: Musikante, paganiste, seevaarders, kunstenaars, predikantsvroue, beach bums …. Om te sing en te dans, te speel of te deel . Wat lag en leef. Ongetag.
Toe die moerige raadslid opdaag om die bordjie te kom vassit, staan daar in groot blink letters:
HISTERIESE MONUMENT.
Sy help hom nie met sy spelfout reg nie. Inteendeel, sy poets die bordjie sommer nog ‘n keer.
No comments:
Post a Comment