Mariana Collage op 'Found Object' Houtblok 2011
Die dag toe Anubis gebieg het
Dis is tydens ‘n jaarlikse skoolkonsert dat my graad 3-groep, so al langs die Nyl af. . . dit regkry om (op)regte teater te pleeg.
Toe die gordyn open kan die gode ‘n sug van verligting slaak. Al die weke se eindelose geoefen met rekwisiete en ongemaklike monderings, nou als die moeite werd.
Lourens en sy Anubisagtige pilaarmaatjies vorm die tempel, terwyl wulpse Nefertiti’s hul groot blare swaai. Die mummies word op die klank van 'Locomotion' wakker en ruk dat die verbande spat. Koning Farao wat baie soos Elvis lyk, kom heupswaaiend op sy vergulde boot binnegeseil. Indrukwekkend, met sy welige kuif en groot donker bril, ruk-en-rol hy 'Blue Suede Shoes'. Maar toe die boot moet stop . . kan dit om een of ander onverklaarbare rede nie gestop kry nie . . en dit vaar onverstoord op die temple af! Pilare, blompotte, slawe spring beangs uit die pad.
Lourens se hondekopmondering het egter oor sy oë gesak , en dis eers toe die voortvarende koning reg voor hom tot stilstand kom, dat hy besef hy staan pilaaralleen teen Elvis vandag. Hy skree kliphard : “Ek sal nie weer jou albasters vat nie.”
Ons het die toneel net so gelos, die gordyne getrek en toe bars daar ‘n oorverdowende gejuig vanuit die gehoor los. Vir waardering vir ‘n wonderlike opregte oomblik. Vir waardering dat niemand seergekry het nie. En vir waardering dat almal tot getuie geroep is
Dat anibus
NIE
Elvis se alabasters in die groot, warm woestyn gevat het nie.
No comments:
Post a Comment