Thursday, 6 October 2011

'n Tuiste, 'n Tas


‘n Tas, ‘n Tuiste
Sy tel vir Wollie op net voor haar man die laaste tas in die motor laai, en sit hom versigtig tussen die verskrikte kinders  op die agterste sitplek neer.  By die hek is dit maklik om nie oogkontak te maak met die smalende gesigte wat deur die vensters gluur nie.  Moeg na dae se gepak en terwyl trane hul oë verblind, is hulle op daardie oomblik slegs bewus van mekaar se pyn.
Dis eers by die hotel anderkant Beitbrug dat dit effens begin insink.  Die Veterane besit nou hul grond.    En hulself besit niks. . . behalwe net vir mekaar.
Vroeg die volgende oggend en net voor hulle weer die tasse motor toe moet dra, besef hulle Wollie is weg.  Met die eerste angstige roep hoor hulle haar kermgeluidjies vanuit die tas by die deur,  en toe hulle die tas ooppluk val sy saam met die skoene op die grond.  Keer op keer spring sy onmiddelik en verskrik terug  in die tas, bevrees dat hulle haar dalk gaan vergeet...
Wollie was  nooit, ooit  weer dieselfde nie. Sy’t geweier om  in ‘n hondehok te slaap daarna, dit MOES ‘n tas wees.
Want soos hulle, kon sy . . . ook nooit . . . vergeet nie.

No comments:

Post a Comment