Mariana 'Found Object' gemonteer op geroeste deksel 2010
Tant Anna se Hoed Lewe
Dawid se ma praat net eenkeer. Die tweede keer kry hy ‘n knyp aan die sagte vleisies van sy bo-arm, net daar waar sy opgerolde hempie se mou stop. En dan brand dit dwarsdeur al die psalms en gesange en die wonderwerke, tot by die seëngebed reg aan die einde.
Dawid sit liewer doodstil. Hy kyk stip voor hom, te bang om te roer. Al wat hy sien is tant Anna se hoed met die blomme.
“Kom laat ons bid,” sê die dominee toe hy sy vlerke oplig. Maar Dawid se ogies bly wawydoop op Tant Anna se hoed vasgenael, want ‘n ragfyn net is besig om stadig oor haar hoed te sprei. Te pragtig! Met fyn swart kolletjies groei die net al wyer en wyer. Amper net soos die wonderwerk van die vermeerdering van die vissies en die brode, en hy skuif vorentoe om die wonderwerk van die groeiende net nog beter te kan sien.
“Tant Anna se hoed l-e-e-w-w-e-e-e-e ! ” weergalm dit skielik benoud toe hy die sywurmpies sien.
“Ja, HY lewe” beklemtoon dominee klein Dawid se skielike meelewende insig.
Met sy ma se vingers op sy bo-arm en gereed om te knyp, aanskou Dawid toe daardie oggend die geboorte van tant Anna se hele hoed. Die vermeerdering van die net. Die verandering van eier in wurm.
By die huis het Tant Anna weer haar hoed versigtig in die kas gaan bêre. Dawid het ‘n roomys gekry omdat hy vir die eerste keer dwarsdeur die diens kon stilsit, en sy ma was dankbaar dat klein Dawid ook nou weet dat Jesus lewe.
En Dawid het vir ewig 'n wonderwerk aanskou. Al wou niemand hom glo nie.
No comments:
Post a Comment