Tuesday, 7 February 2012

Pongracz!



Verruklik Edel
Skuins na 5 elke middag, het hy hand- in- die- sy op die boonste trap van die stoep verskyn. Vir ‘n oomblik op die landing getalm, met genoegdoening oor sy roostuin gekyk, sy snor se punte vernuftig ‘n vinnige draaitjie gegee, en dan in gelid en amper koninklik, na onder begin daal.  Eerste hy, daarna ‘n swetterjoel blinkgeborselde worshondjies, en dan  sy vrou, geklee in  ‘n balrok uit ‘n vergete era.  
Die flambojante passasie het dan af na die hek verby die visdam, en bossie-vir-bossie terug  beweeg. Statig, stadig, stil. Fluweelgekoord en goudgeknoop het die vreemde klein mannetjie sy gedienstige gevolg elke middag deur sy voortuin gelei – totdat die ritueel  in 1984 eenklaps op ‘n grou wintersoggend in ‘n noodlottige motorongeluk geëindig het. 
 Jare daarna bestel ons ‘n bottel vonkelwyn en toe die kelner die bottel voor ons neersit, het hy skielik weer daar gestaan. Flambojant gedrapeer op die etiket van die bottel Pongracz Methode Cap Classique. Terwyl yskoue druppels teen sy bors afloop, lees ek: Desiderius Pongracz. Van adelike inbors. Sy denke oor wyn, musiek, geskiedenis en die mens was opspraakwekkend. Hierdie vlugteling van die Hongaarse opstand het ‘n groot voorliefde gekoester vir die wynstok. Sy besondere kennis van kultivars en wynbou het vernuwing aan die Kaap gebring….
Ek kon my oë nie glo nie. En net daar lig ek my glas vir ‘n vonkelende saluut op ‘n kenner van die wynstok. Op my buurman van ouds.
Die verruklike droë smaak het onmiskenbaar edel in my keel afgegly.
 

Monday, 5 December 2011

Bosstoriesreeks no 2 / Grietjie Lamina

Grietjie Lamina
Vir Luigia Fardini is die winter van 1891 ekstra koud.  Sy bevind haar nie net  in ‘n  vreemde land nie.  Sy is ook in die ‘ander tyd’ en die blote gedagte dat sy weereens, te midde van honger, gevaar, koue en bomenslike ontberinge die lewe aan ‘n kind in haar hopelose omstandighede moet skenk, vul haar met angs.
Toe sy die kind al sterk voel skop, so om en by haar 6de maand, word haar man Domenico se touleier Arend, na Buffelsnek gestuur met ‘n boodskap vir Grietjie. Grietjie Lamina, die vroedvrou van die groot bos.
Toe die tyd aanbreek volg Grietjie die napad deur die bos. Oor die Knysnarivier, verskeie stroompies langs en weer op tot sy  Platrant in die verte sien.  Twee dae te perd. Om lewe in haar hande te ontvang.
Luigia is verlig toe sy  haar opwagting maak  en  die paar dae voor die bevalling neem Grietjie vanuit die stoortjie waar sy tussen die paarstuks lêhoenders moet slaap, beheer. Lappe word ingelê en die groot kom op die solder word skoongeskrop en in die kol son langs die witstinkhout gedroog. En toe Domenico haar die nag van die 6de Junie, in die middel van ‘n donker en yskoue, nat wintersnag kom roep, is Grietjie slaggereed om die 9de baba van Luigia en Domenico  die wêreld in te help.
Toe klein Teresta uiteindelik skoongewas  by kerslig aan haar ma se bors aan die slaapraak, gaan begrawe Grietjie die nageboorte. Die lappe en skottel word later sorgvuldig gebêre, en toe Grietjie haar perd drie dae later opsaal weet sy dat sy spoedig weer die tog Platrand toe sal aanpak.
Omdat sy Grietjie Lamina, vroedvrou van die vrugbare bos is.

Wednesday, 30 November 2011

Duifkyk


Duifkyk
Lindi  gee my duifkyke,”   sê Barbara se jongste kind ontsteld .    “Wat bedoel  jy sy gee jou duifkyke?”  vra sy en in haar geestesoog sien barbara die duif wat soggens op haar vensterbank kom sit. Sag en vreedsaam.  “Sy’s lelik met my . en sy pik op my,”  snik sy  kliphard.
Dalk het sy êrens  hondmak of leeuloop gehoor,  dink Barbara terwyl sy haar kind op haar skoot tel. Maar duifkyk?
Dis jare later, toe sy ook seergemaak en gekwes die duiwe op Trafalgar gaan voer, dat barbara dit sien.  Daardie oomblik wanneer die duif sy koppie skuinsdraai, om die pit effens uit die hoogte, met ‘n blinkogie te bespied.  En dan te pik.  Pik-pik-pik. Weer koppie skuinsdraai.
Weer pik.
 Sy verstaan skielik haar kind se kinderlike opmering van daardie dag lank gelede, want   mense maak haar ook nou seer. Mense wat neerkyk. mense wat pik en pik en pik. 
En sy wens dat iemand haar nou wil optel.
Sy wens dat iemand haar ook wil troos.

Friday, 25 November 2011

Die nuwe Tsafendas


DIE NUWE TSAFENDAS
Dis die 6de September 1966, en ek het sopas my skooltas neergesit toe die plaastelefoon skril lui.  Een korte, en een lange.  En weer ‘n keer voor my ma die telefoon optel.  Ek het gesien hoe sy skuinsdraai, haar hand op haar mond sit en hoe sy stadig in haar stoel afsak.  My pa was die dag self in die parlement, en kon my ma onmiddelik inlig. 
Elke keer as die morsekodige getoet die nuus oor en oor daarna aan die nasie oorgedra het, het my ma snikkend op haar arms voor die transistor radio bly lê. 
Verwoerd was dood.
Dood.
Die bloedbevlekte mat is eers in April 2004, saam met die Nasionale Party, uit die Parlement verwyder en spreekwoordelik is die mat toe letterlik en figuurlik onder my ma uitgepluk.
Sy het daarna vinnig agteruitgegaan, en ‘n rukkie voor haar dood wou sy in ‘n oomblik van helderheid weet hoekom  Marthinus vir Verwoerd geskiet het?
Dit was nogal ironies vir my omdat sy in haar verswakte toestand eintlik ‘n suigling was.
En uit die mond van die suigling hoor jy die waarheid. 
Marthinus was die nuwe Tsafendas.

Wednesday, 23 November 2011

Bosstoriesreeks no 1 / Die vrouens van die Knysnabos, soos oorvertel aan my deur Rayno Sciocatti.

Gouna, Knysna

KATIE VAN DIE GROOT BOS
Sy wag al vir dae geduldig op die grootvoet,   en wragtig, vandag skiet sy hom flenters . . .  as sy hom net kan kry.  Vir weke al kom verwoes hy haar groentetuin en  die lukwaartboom is skuins uit sy gat gepluk, gestroop en tot niks vertrap.  Kos is skaars  en die dorp lê drie dae vêr se gesukkel deur die bos en terug.  Die kinders is honger en  Giel saag hout by Diepwalle se kant.  Hy kom eers huis toe as die hout  klaar gelaai is.
Sy moet hom kry. Vandag nog.
Moedeloos sak sy in die voortjie terug, haar hande om die voorlaaier gevou,  versigtig toegerol in ‘n moddersak om haar reuk te verbloem.  En sy wag. 
Sy moes aan die slaap geraak het, want toe sy opkyk staan hy daar,   sy groteske kop met spierwit tande wat ondertoe krul  net ‘n paar meters van haar af.  Oorgelaai  lig sy haar stadig op haar arms en vir ‘n sekond kyk sy in sy oë.  
Die skoot ruk haar eenkant toe en toe sy omdraai sien sy die olifant na regs kantel.  Dood. 
Drie dae later sleep Giel hulle sy karkas stuk vir stuk met die houtslee en osse  weg.    En vir Katie kom daar vrede.  Vrede in haar huis en tuin, vrede in haar hart.
 Want haar kinders het weer kos  om te eet.
 Want haar kinders . . . sal weer kan speel.
(Katie staan vandag nog bekend as die enigste vrou wat 'n olifant in die Knysnabos geskiet het.)

Monday, 14 November 2011

ABRIE

Mariana  Olie op glas  2009

ABRIE
Dit is in die ry voor die Burgersentrum, dat ek die growwe stem duidelik bo die  stemme van die ander feesgangers hoor... vrolik verhewe bo die res van die opgewonde geselsery voor die vertoning begin. Ek weet ek ken die stem, maar dit lê so diep weggebêre dat ek dit op die oomblik glad nie kan plaas nie.  Toe ek dit vir die tweede keer hoor, staan ek op my tone en daar sien ek die stem lewensgroot voor in die ry raak.  Die stem wat net aan my beste maatjie Hannelie se kleinsussie Abrie, kan behoort.
Ek  stap verbaas nader en wonder of sy my na 42 jaar nog sal onthou? Wat sy nie kan nie, maar sy is so opreg bly om my te sien dat ek ‘n klapsoen op die wang kry, haar lewensvreugde so groot dat dit my onkant vang.  In haar oë sien ek geen gewroeg, geen bagasie, geen swaarkry of pyn.  Net liefde en vrede wat ek haar beny.
Vir dae daarna dink ek elke nou-en-dan terug aan haar.  Abrie, die pragtige, selfversekerde middeljarige vrou wiese geboorte 50 jaar gelede so ‘n opskudding veroorsaak het.  En wat  haar las 
- een chromosoom te   veel - 
met soveel oorgawe dra.


Tuesday, 8 November 2011

'May Flower'

Mariana   May Flower  Olie op doek  2010

May Flower
Dit is die 1ste November 2011, en Danica May Camacho lê rustig en slaap in haar ma se arms, onbewus van die kamera's wat om haar flits. Net ‘n paar uur vantevore was sy nog in haar ma se geboortekanaal, besig om in ‘n hospitaal in die Filippyne te stu vir haar eerste asemteug.  Die 7 miljardste eerste asemteug, om presies te wees.
‘n Paar kilometers daarvandaan sit Die Medisynevrou tandloos op haar mat, onbewus van die geskiedkundige gebeurtenis wat in haar omgewing afspeel.  Sy neem nog ‘n sluk van die mengsel uit haar pot, en deur ‘n  waas sien sy dit nou duidelik.
‘n Jong vrou lê op haar sy op die rand van 'n krater.  Rook sypel deur die skeure in die grys verskroeide aarde om haar, haar neus gevul met die reuk van uraan gesplits tot atoom. Die wêreld soos sy dit geken het, geredigeer tot niks.
In die rookwalms lees Die Medisynevrou:  1 November 2023  en sien sy 'n enkele May Flower  wat haar kop in die verwoesde Tuin van Eden, op die rand van die krater oplig . . . die enigste vorm van lewe wat oorgebly het. 
Sy noem haar Danica May Camacho.